Nie te lank terug nie, was daar nie een nie en toe skielik, was daar…
‘n Tigerlily
Sommer net so, is sy gebore by ‘n rooi stoep, op ‘n plaas. Voor die rooi stoep, was Tigerlily nog iewers in die Kosmos. Nog klein stukkies dit en dat wat net nie bymekaar wou kom nie.
‘n Gawe boer het die Tigerlily raaksien en laat grootword daar op die plaas, al was die ‘Tiger’ deel van Tigerlily ‘n gevaar vir die skape. Tigerlily het gegroei, haar voete gevind, en bietjies-bietjies dit entjies verder as die stoep gewaag.
Sy het interessante plekke ontdek deur paatjies wat van die stoep af lei. Sy het ook haarself ontdek. Sy het eers net al die blomme raakgesien, maar ontdek toe so op die harde manier hoeveel dorings tussen die blomme lê. Nou weet sy om versigtig te trap en nie net blindelings van blom tot blom te loop nie.
Maar die grootste les wat sy geleer het, is dat daar dinge is om te ontdek, raaisels om te ontsyfer, ‘n lewe om te leef…
