Gisteraand se koue krummelpap kry my in vervoering vandag. Nie net oor ek lanklaas mieliepap geëet het nie, maar oor hierdie ‘batch’ daai ekstra bestanddeel het. Daai bietjie aanbrand wat mieliepap net ’n ander smaak gee. (Dit moet darem lyk of ek dit met opset bietjie aangebrand het..)
krummelpap+melk+suiker=happieonthou
Een hap en all roads down memory lane loop net een koers: Mooiplaas.
Mooiplaas was ‘n Hoëveldplaas. Mielies, melkkoeie, perde, groen heuwels, bloekombosse, hoenders, turksvye. Die ou plaashuis met groot (soos in GROOT) kombuis met twee koolstowe wat altyd brand. Die nagte van wakkerlê en luister na die kreune en krake van die sinkdak en plankvloer. Die gerusstellende vasdruk van die swaar kwilt om jou lyf.
Sal ek darem wat wou gee om weer daar te kon gaan kuier. By Ouma Mooiplaas met haar lekker lag en die reuk van koekies wat soos ‘n wolkie om haar gehang het. Warm brood, vars botter, nastergal konfyt, koolstoof-mieliepap-met-ietsie-ekstra..
Nou is Mooiplaas ‘n myn. Nee, nie ‘n goudmyn letterlik/figuurlik nie, maar ‘n steenkoolmyn. Omgedolwe en gesloop van alles wat mooi was.
Gelukkig kan ek nog soontoe gaan met behulp van mieliepap krummels en toe oë. Het ons almal ‘n plaas waarheen ons terugverlang?
Ek dink ek ruik ‘n bloekomboom.