Ek sit gister deur ‘n venster en uitkyk. Wat ek sien is mense wat verbyloop, baie mense. Ek sien die mooiste netjiese groen gras. Ek sien antieke ou geboue van sandsteen, met fyn detail in die afwerking. Gebou toe daar nog tyd was.
En ek verlang
Ek verlang my Pa wat lief was vir dit. Ek verlang die dae toe ons almal nog daar rondgeloop het. Ek verlang die keer toe ek daar by Oom Paul se voete gesit het tussen baie mense, geluister het na iemand wat ek nie kon hoor nie, met my ma en pa by my.
Ek kyk en ek kyk weer en dit is weer anders. Anders as hoe my kop my vertel het dit is. Wat my kop gesê het, hoekom ek nie meer daar kan wees nie. Dit is oop en toeganklik. Dit is vreedsaam en besig. Dit is mense.
Kan ons nie maar teruggaan nie? Kan ons nie net weer die strate inloop en onthou dis ons strate ook nie? Dis ons pleine en parke en bome en gras. Dis ons ou geboue vol grasie. Hoekom wil ons dit vergeet?
ding het gesê,
February 8, 2009 at 6:12 vm
Ding wens Ding het van beter geweet toe jy daar gesit het. Ten minste, Tierie, HET jy weer daar gesit. As ‘n mens net wil, is alles eintlik heel toeganklik. Dit is soos jy sê: die geheim lê in die kop – maak ‘n kopskuif. Alles wat jy sien, is almal s’n. Die en dit waarvan jy nie hou nie, ignoreer jy bloot en jy kyk bo-oor die soos oor die duifbollie op Oom Paul. Manman sien nog meer vir Oom Paul as die duifbollie. Partykeer sien manman die bollie en raak manman gefrustreerd, maar oorwegend kyk manman by die duifbollie verby en sien vir Oom Paul. Selfde met die res van wat ons as ons eie behou het.
Mefri het gesê,
February 8, 2009 at 10:49 vm
Ek luister maatjie; wyse woorde.
Tierie dit wat kosbaar is, is gesetel in die hart en nie in die hande nie; dit is hoekom mens dit nie kan verloor nie. Die bollie, weerlig en al daai jazz is daar, maar hou jou oë gefokus op oom Paul en leef jou drome, want dit is onteenseglik joune – niemand het die krag of die mag om dit te roof nie.
Krista het gesê,
February 8, 2009 at 8:12 nm
Ek dink die kuns lê juis daarin om oom Paul onder al die duifbollie te sien soos hy was die dag toe hulle hom neergesit het . . .
Tigerlily het gesê,
February 8, 2009 at 11:30 nm
Wat sal gebeur as ons net van more af ook in die strate rondloop, middagetes op die grasperke geniet, rustig van robot tot robot loop?
Adrie het gesê,
February 9, 2009 at 11:07 vm
Tigerlily
In alle waarskynlikheid net mooi niks nie. Dalk ‘n paar vreemde kyke en dit is dit.
ding het gesê,
February 10, 2009 at 6:36 vm
Tierielief, Adrie is reg: jy gaan vreemde kyke kry. Maar die vreemde kyke wat JY gaan kry, is doodgewoon omdat jy so ‘n looker is! Ongekend.
Soooo, Tierie, Ding HET jou al gevra: sien jy kans dat Ding vir jou jou stad wys soos Ding vir jou die Groot Niks gewys het?
(Jaja, Tierie, dit sal hierdie keer op ‘n meer normale uur van die dag wees as die vorige poging!) Maar dan: kan Ding ENIGIETS net normaal doen, huhmmm?!
BB het gesê,
February 11, 2009 at 4:04 nm
Og Tigerlily – ek het ook oppie plein gewerk – jarre terug – in die PG kantoor met uitsig op Oom Paul en die duiwe het soggens aan die venster kom klop vir hulle kos… en die duitse toeriste het my skaam gemaak met hulle kort sokkies binne in liewe Jesus sandale en gechattery dat jy hulle myle vêr kon hoor – as daai bus stop kom roep hulle my: “BB, jou fêmilie is oppie plein!!!!”
Ek sal jou eendag by Café Riche kry virre koffietjie as jy lus het (of is die Café ook nou al onherbergsaam??)
ding het gesê,
February 11, 2009 at 5:01 nm
HA! Tierie! Jy MOET daai saam met Beeps gaan doen! Dalk, net dalk het hulle daardie dag dan vir jou kersiebier, ja? En dalk, net dalk, as jy mooi kyk, sien jy weer die twee boemelaars wat smag na ‘n sigaret soos Ding s’n en hom verwens juis daaroor … en wie weet – net dalk kom die blommeverkoper na julle en gee julle elk ‘n bos blomme – net omdat Beeps so spesiaal is vir Ding en jy die Plein so ouwêrelds mooi gemaak het op jou verjaarsdag, ja?
Mefri het gesê,
February 12, 2009 at 10:55 vm
Tierie, ek het pas maatjie se kommentaar gelees; ♪ Jy verjaar!!! ♪ Baie, baie hartlik geluk liewe Tierie. Mag jou dag bekroon word met die aller mooiste mooi. Ek is so bly jy IS, want jy het al so baie lieflikhede uitgestraal waarin ek groot vreugde gevind het.
Ek hoop daar is baie spesiale ‘Grootbederf’ verassings wat op jou wag.
Tigerlily het gesê,
February 13, 2009 at 11:32 vm
BB – Dit was juis deur Cafe Riche se venster wat ek die wereld saam met Ding beloer het.
Mefri – Dankie vir die wense. Die bederf was inderdaad groot. ‘n Dag van eerstes!