Hmm… Die reuk van reën. As iemand ‘n fortuin wil maak, moet hulle daai reuk in ‘n botteltjie vasvang en bemark.
Wat is dit aan die reuk van reën wat my so betower? Vars, geheimsinnig, hemels. Dit slaan vas op ‘n plekkie in my brein en oombliklik word ek teruggeruk in tyd. Maar geen spesifieke tyd soos kinderjare of ‘n presiese oomblik, soos met ander reuke nie.
Dit is soos ‘n allesomvattende herinnering.
Die herinnering aan reinheid, skoonheid, mooiheid, liefde, intense geluk. Nogsteeds is dit onderstebo, want dit bly voel of die reuk van reën herinneringe oproep van ervaringe wat nog voorlê…